Treppie hou nie van kuiergaste nie': Xenia in Marlene van Niekerk se Triomf
ORIGINAL RESEARCH
Treppie hou nie van kuiergaste nie': Xenia in Marlene van Niekerk se Triomf
'Treppie does not like guests': Xenia in Marlene van Niekerk's Triomf
Marius Crous
Department of Language and Literature, Nelson Mandela Metropolitan University, South Africa
Correspondence
ABSTRAKTE
In hierdie artikel word aspekte van xenia - soos uiteengesit in die klassieke Griekse teks van Homerus en as vertrekpunt vir latere teorieë oor gasvryheid - kontekstueel in Marlene van Niekerk se roman Triomf (1994) ondersoek. Die Griekse konsep xenia dien egter as voorloper vir eietydse teorieë oor gasvryheid soos vervat in die werk van Levinas en Derrida. Gasvryheid teenoor vreemdelinge vorm die grondslag van xenia en dit is 'n aspek wat herhaaldelik in Van Niekerk se roman voorkom. Daar is die verhouding met die NP-werwingsagente, die Jehovasgetuies, die AWB-werwers, asook Lambert se interaksie met Sonnyboy en Mary, die prostituut wat hom op sy verjaardag besoek. Veral laasgenoemde toneel stem heelwat ooreen met die riglyne vir goeie gasvryheid soos aangedui deur Homerus.
ABSTRACT
This article investigates aspects of xenia or guest relationships - which forms a central aspect of Homer's Odyssey - in Marlene van Niekerk's novel Triomf. Hospitality and the lack thereof form the basis of several scenes in the novel. Examples include the visit of the agents canvassing for the National Party before the elections, the Jehovah's witnesses, the AWB recruiters, as well as Lambert's interaction with Sonnyboy and Mary. The latter scene in particular corresponds closely to the guidelines for proper hospitality as delineated by Homer.
Nous ne savons pas ce que c'est que l'hospitalité. (Derrida 2000:6)
Inleiding
Die doel van hierdie opstel is om die uitbeelding van gasvryheid in Marlene van Niekerk se debuutroman Triomf (1995) te ondersoek, onder meer in die konteks van xenia soos uitgespel in die klassieke Odusseia van Homerus. Xenia is egter die vertrekpunt vir latere beskouings oor gasvryheid in die werk van onder meer Kant, Levinas en Derrida - wat ook in my bespreking ter sprake sal kom. Die onderskeie nuanses van xenos en xenia sal ook verreken word. Gasvryheid speel 'n belangrike rol in Marlene van Niekerk se oeuvre, soos onder meer blyk uit ondersoeke deur Sanders (2009) waarin hy grotendeels fokus op die roman Memorandum: 'n Verhaal met skilderye (Van Niekerk 2006), terwyl Buxbaum (2014:31) 'hospitality - and the related term hospice' as twee sentrale motiewe in Van Niekerk se werk beskou.
Hu (2013: 3) meen dat die hernieude belangstelling in gasvryheid te wyte is aan die groot toename in vlugtelinge na die Tweede Wêreldoorlog, asook die eietydse globalisering van die planeet. Nie net kom die klassieke xenia deurlopend in die debat oor gasvryheid en vreemdelingskap voor nie, maar word op Immanuel Kant se konsep kosmopolitanisme voortgebou. Kant definieer universele gasvryheid soos volg: Gasvryheid impliseer die reg van 'n vreemdeling om nie tydens sy of haar aankoms in 'n ander land as vyand behandel te word nie. Idealisties, sonder om noodwendig staatkundige grense in ag te neem, stel Kant (in Hu 2013) sy visie soos volg voor:
Since the earth is a globe, they cannot scatter themselves infinitely, but must, finally, tolerate living in close proximity, because originally no one had a greater right to any region of the earth than anyone else. (bl. 4)
Verskeie kritici bou voort op die teorie oor gasvryheid teenoor vreemdelinge, waaronder die bekendste eietydse ondersoeke van Levinas en Derrida. Derrida se Of hospitality (2000) is twee lesings wat hy oor die onderwerp gegee het in antwoord op spesifiek Levinas se definisie van die Ander, wat as voorloper dien vir die gesprek oor xenofobie en die houding jeens vreemdelinge . Aangesien die Franse woord hôte as sowel gasheer as gas vertaal kan word, impliseer dit volgens Heard (2010: 315) dat hospitalité nie net op die verhouding tussen ryk en arm betrekking het nie, maar dat daar ook 'n geestelike plig op die rykes rus om aan hierdie verhouding aandag te gee - dit verklaar ook hoekom daar in die monastiese tradisie soveel waarde aan die versorging van pelgrims en reisigers geheg is. In die inleiding tot Derrida (2000:ix) skryf Bowlby in haar vertalersnota dat die Griekse woord xenosna sowel vreemdeling as uitlander (foreigner) verwys, 'n aspek wat ook indringend deur Kristeva in haar Strangers to ourselves (1989) bespreek word. Haar perspektief op die gas in ons midde het veral betrekking op migrante na Europa en haar sentrale uitgangspunt is dat die vreemdeling binne-in ons self is (Kristeva in Oliver 2002):
Strangely, the foreigner lives within us: he is the hidden face of our identity, the space that wrecks our abode, the time in which understanding and affinity founder. By recognising him within ourselves, we are spared detesting him in himself. (bl. 290)
Volgens Galetti (2015: 48) verwys Derrida in sy Adieu Levinas (1999) na Levinas se siening oor die 'autre' en hoe dit met gasvryheid in verband gebring kan word. Volgens O'Gorman (2006: 51) tref Derrida 'n onderskeid tussen onvoorwaardelike gasvryheid ('unconditional hospitality') wat, volgens Derrida onmoontlik is en gasvryheid wat as voorwaardelik ('conditional') bestempel word. Gasvryheid impliseer vir Derrida die innooi en verwelkoming van die vreemdeling. Derrida voel egter ook dat daar onderskeid getref moet word tussen hospitality en hostipality. Laasgenoemde het betrekking op die gashere of gasvroue wat, wanneer gaste by die deur verwelkom word, nie van hulle meesterskap binne hulle domein afstand doen nie. Dit vorm vir Derrida die grondslag van gasvryheid. O'Gorman (2006) merk in dié verband soos volg op:
There is a limitation to the amount of hospitality that hosts can and wish to offer. Just as important are the intentions that lie behind any hospitable act: there surely is a distinction to be made between hospitality for pleasure and hospitality that is born out of a sense of duty. (bl. 51)
Slegs indien daar 'n gasheer of 'n gasvrou aanwesig is, kan iemand 'n gas word.
In hulle ondersoek na die uitbeelding van gasvryheid in Karel Schoeman se roman Na die geliefde land meen Titlestad en Kissack (2008) dat dié woord in Afrikaans die 'unlimited and unconditional welcome', wat veral deur Derrida vooropgestel word, die beste beskryf:
Literally, 'the freedom of the guest', the word implies both that no restraints or limits are placed on the visitor, and that this freedom is unreservedly and unconditionally granted by the host. It is a gift given without the expectation of reciprocation, without that is, instituting an economy that leaves the recipient obliged to the host. (bl. 63)
Gasvryheid of xenia soos dit in die klassieke sin van die woord gebruik word, was die wet of die gebruik waarvolgens beskerming en gasvryheid teenoor vreemdelinge bewys is. Zeus Xenios word beskou as die (...truncated)